KONSEP
DEPARTEMENT VAN OMGEWINGSAKE EN TOERISMETAK MARIENE-EN KUSBESTUUR
BELEID AANGAANDE DIE TOEKENNING EN BESTUUR VAN KOMMERSIëLEVISVANGREGTE IN DIE OESTER VISSERY : 2005
INHOUDSOPGAWE
Inleiding ... 3
Biologie ... 4
Sektorale profiel ... 4
Die proses van medium-termyn regtetoekenning ... 6
Oorkoepelende sektorale doelwitte ... 6
Tydsduur ... 7
Nuwe inkomelinge ... 7
Evaluasiekriteria ... 7
Uitsluitende kriteria ... 8
a Vorm van die aansoeker ... 8
b Aansoeke van families ... 8
d Papierkwota's ... 8
e Nie-gebruik ... 8
f Nie-afhanklikes: ... 8
g Persoonlike betrokkenheid ... 9
Balanseringskriteria ... 9
a Transformasie ... 9
b Belegging in die visvangbedryf ... 9
c Oesprestasie ... 9
d Afhanklikheid van oesters ... 10
e Plaaslike ekonomiese ontwikkeling ... 10
Oes van oesters ... 11
Aansoekgelde ... 11
Voorlopige lyste ... 11
Permitvoorwaardes ... 12
Inleiding
Hierdie beleid vir openbare kommentaar handel oor die toekenning en bestuur van visvangregte in die kommersiële oestervissery en word deur die Departement van Omgewingsake en Toerisme: Tak Mariene-en Kusbestuur ("die departement") uitgereik. Hierdie beleid moet saamgelees word met die Konsep van die Algemene Beleid aangaande die Toekenning en Bestuur van Langtermyn Kommersiële Visvangregte: 2005 ("die Algemene Visvangbeleid").
Soos in die Algemene Beleid verklaar, sal die Departement openbare vergaderings en rondgaande plaaslike besprekings hou om met die algemene publiek, en veral die belanghebbende en geaffekteerde partye, oorleg te pleeg oor hierdie beleid. Skriftelike of mondelinge kommentaar sal op hierdie vergaderings gevra word en indien nodig sal hulp verleen word. Skriftelike kommentaar moet die Departement teen 11 April 2005 bereik. Kommentaar na hierdie datum ingedien sal nie oorweeg word nie. Kommentaar moet as volg ingedien word:
Die doel van hierdie beleid is om die oorwegings van toepassing op die toekenning van kommersiële oesregte vir oesters uiteen te sit. Min van hierdie oorwegings is nuut. Hulle is in die verlede deur die Departement gebruik om regte toe te ken en om hierdie bedryf te bestuur. Hierdie beleid vervat sodanige oorwegings.
Sekere voorgenome bestuursbeleidsrigtings in verband met die toekenning van regte, word breedvoerig in hierdie beleid uiteengesit. 'n Bestuurshandboek vir die Oestervissery sal met al die regtehouers in die loop van 2006 gefinaliseer word. Hierdie handboek sal in die fynste besonderhede die toepaslike bestuursmetodes en -prosedures vir die bedryf uitstippel
Die Minister van Omgewingsake en Toerisme is voornemens om artikel 18-magte om kommersiële oesregte vir die oestervissery toe te ken, ingevolge artikel 79 van die Wet op Lewende Mariene Hulpbronne 18 van 1998 ("die WLMH") aan 'n senior beampte van die Departement te delegeer.
Biologiese status van oesters
Die Kaapse Rotsoester wat in hierdie bedryf geteiken word, kom voor op rotsriwwe in 'n uitgebreide geografiese gebied vanaf Kaap Agulhas tot by Mosambiek. Hierdie oesters word in die tussentyse sone gevind in dieptes van ongeveer 6m. Die Kaapse Rotsoester word natuurlik gevind en word as "wilde oesters" in Suid-Afrikaanse restaurante verkoop.'n Goedkoper oester is die sogenaamde "Pacific Oyster" wat ingevoer word en heelwat in marikultuur benut word.
Daar is gevind dat oesters langs die KwaZulu-Natalse kus 33 maande (feitlik 3 jaar) neem om bemarkbare grootte (lengte van 60 mm vir die regterskulp) te bereik. Oesters versprei eiers oor 'n uitgebreide gebied. Oesters langs die KwaZulu-Natalse kus broei dwarsdeur die jaar met hoogtepunte gedurende lente en somer.
Oes vind plaas gedurende lae springgetye en is tradisioneel beperk tot die tussentyse sone, maar gedurende die afgelope paar jaar het die oesdieptes geleidelik uitgebrei na die rande van die subgety-sone, dit is omdat oesterdigtheid in die tussentyse sone afgeneem en toerustingdoeltreffendheid geleidelik toegeneem het. Oesters word met 'n skerp staalkoevoet van die rotse losgemaak.
Sektorale profiel
Die oestervissery is vantevore bestuur as twee aparte visserye as gevolg van die gebiede waar hulle voorkom, naamlik die KwaZulu-Natalse kus en die Suid-Kaapse kus. Sedert 2002 is die oestervissery as enkele nasionale vissery bestuur. Volgens die nuwe bestuurstelsel is vier kommersiële oesgebiede amptelik erken, naamlik KZN-Noord, KZN-Suid, Port Elizabeth en die Suid-Kaap. Daar bestaan steeds verskille tussen die regulasies en oespatrone van die gebiede.
In KwaZulu-Natal (Noord-en Suidkus) is die bestuursbenadering van die KwaZulu-Natalse Provinsiale Regering steeds van krag. Dit werk deur middel van 'n beperking van die ontplooide vangpoging waarvolgens die aantal plukkers beperk word en 'n daaglikse sakperk van 190 oesters per plukker per dag afgedwing word. Verder is die KZN Noord-en Suidkus in vyf sones elk onderverdeel, wat op rotasiebasis geoes word. Dit verg dat sones vir minstens drie jaar op 'n slag braak lê (die optimale tydperk vir jong oesters om bemarkbare grootte te bereik) wat verseker dat oestervoorraad herstel. Hierdie stelsel word deur kommersiële en ontspanningsektore toegepas.
Die oestervissery langs die Suid-Kaapse kus word nie volgens rotasie-oeste bestuur nie, maar deur die aantal plukkers te beperk sonder daaglikse sakperke. Verder is die ontplooing van die vangpoging oor gebiede verdeel na aanleiding van die hoeveelheid toeganklike oester riwwe. Die Suid-Kaapse bedryf word beheer deur middle van 'n geslote seisoen vanaf 15 Desember tot en met 05 Januarie. Die geslote seisoen is ingestel om konflik tussen vakansiegangers en kommersiële oestersektore in te kort. In Port Ellizabeth word die oesterbed nie geoes nie. Slegs uitgespoelde oesters word opgetel.
Die Totale Ontplooide Vangpoging (TOV) vir die oestervissery word tans glad nie beinvloed deur wetenskaplike oorwegings of die status van die bron nie, maar word gebaseer op vangpogings vlakke voor 2002. Vordering in navorsing en voorradebepalings is nodig om volhoubare oesvlakke na behore te bepaal. Die huidige TOV (2005-seisoen) word op 145 plukkers vasgestel en word as volg toegedeel:
Suid-Kaap (102 plukkers); en
Die TOV langs die Suid-Kaapse kus word verder oor sones verdeel, gebaseer op die hoeveelheid toeganklike oesterriwwe, en wel as volg:
Beperkte kommersiële oesterregte is in 2002 toegeken om 'n paar voormalige bestaansgrondslagvissers te bemagtig wat vantevore verhoed is hulle bestaans-oeste te verkoop.
Die proses van medium-termyn regtetoekenning
In 2002 is kommersiële regte om oesters te oes aan 34 aansoekers, met altesaam 114 plukkers in hulle diens, toegeken. Hiervan was 88% beperkte kommersiële regte. Regte is hoofsaaklik aan individue toegeken. Individue hou 91%, beslote korporasies 3% en maatskappye 6% van die regte.
Swart persone hou slegs 25,8% van die individuele regte, wat uiters swak is vir 'n bedryf wat maklik toeganklik, min toerusting en 'n klein kapitale basis nodig het. Verder is slegs 25,8% van die individuele regtehouers vroue.
Hoewel die TOV vasgestel is op145 plukkers, oes slegs 114 plukkers tans oesters.
Oorkoepelende sektorale doelwitte
Die doel van hierdie beleid, saamgelees met die Algemene Visserye Beleid, is om kriteria te bepaal waarvolgens oester-oesregte toegeken sal word. Die doelwitte by toekenning van kommersiële visvangregte in hierdie vissery is om:
Die transformasieprofiel van die bedryf aansienlik te verbeter;
Oesterregte toe te ken aan diegene wat afhanklik is van die oes van oesters om 'n bestaan te maak:
Oesterplukkers te bemagtig;
Te verseker dat regte in al die gebiede waar oesters geoes kan word, toegeken word; en
Die ekonomiese lewensvatbaarheid en omgewingsvolhoubaarheid van die bedryf te ondersteun.
Die Departement is bewus van, en bekommerd oor sekere monopolistiese neigings in hierdie sektor (sien verder paragraaf 9 hier onder).
Tydsduur van regte
Kommersiële visvangregte sal vir 'n tydperk van maksimum drie jaar toegeken word. Langtermyn regte sal oorweeg word slegs wanneer voldoende inligting oor die status van die bron bekend is en die transformasieprofiel van die sektor aansienlik verbeter het. Die Departement sal 'n sosio-ekonomiese studie tydens die drie-jaar tydperk doen in 'n poging om die huidige wanbalanse in die sektor reg te stel.
Nuwe inkomelinge
Alhoewel die bedryf tans oorontgin word is daar steeds oesgebiede wat glad nie ontgin word nie. Die Departement vereis dat hierdie gebiede ontgin word om waardevolle inligting oor oesters in daardie gebiede in te win. Verder is die sektor ongetransformeerd en word deur 'n paar persone oorheers tot nadeel van ander wat in die sektor werk.
Die Departement sal dus probeer om regte aan nuwe aansoekers toe te ken in die gebiede waar geen medium-termyn kommersiële oesterregte toegeken is nie (en 'n TOV vir hierdie gebiede vasgestel was) en waar nuwe inkomelinge die transformasieprofiel van die sektor sal verbeter.
Evaluasiekriteria
Aansoekers om kommersiële oesterregte sal volgens 'n aantal uitsluitings-en balanseringskriteria evalueer word.
Uitsluitingskriteria
Behalwe die uitsluitingskriteria in die Algemene Beleid in verband met onbehoorlike indiening van vorms en materiële defekte, sal die volgende uitsluitingskriteria op regtehouer-aansoekers en nuwe aansoekers toegepas word:
Vorm van die aansoeker: Slegs natuurlike persone (d w s individue), mag om regte aansoek doen.
Aansoeke van families: Oor die algemeen sal slegs een reg per familie toegeken word. Wanneer meer as een aansoek van familielede wat by dieselfde adres woon ontvang word, mag dit wees dat al die aansoeke uitgesluit sal word. Meer as een reg mag per familie toegeken word, wanneer aansoekers duidelik en oortuigend kan bewys dat hulle aparte klein kommersiële ondernemings gestig het.
Wetsnakoming: Aansoekers wat skuldig bevind is aan 'n ernstige oortreding van die WLMH, (wat byvoorbeeld gelei het tot tronkstraf sonder die opsie om 'n boete te betaal) sal nie 'n reg toegeken word nie. Aansoekers wie se visvangreg enigsins ingevolge die WLMH gekanselleer of ingetrek is, sal ook nie 'n reg toegeken word nie. Ander oortredings van die WLMH sal evaluering van die aansoeke negatief beïnvloed soos hier onder uiteengesit.
Papierkwota's: 'n Papierkwota soos in die Algemene Beleid bepaal, word uitgesluit.
Nie-gebruik: Regtehouers wat versuim het om hulle medium-termyn kommersiële oesterregte tussen 2002 en 2004 te gebruik sal nie weer 'n reg toegeken word nie.
Nie-afhanklikes: Persone (soos prokureurs, onderwysers, polisiebeamptes, ondernemers en so meer) wat enige deel van hulle inkomste uit bronne buite die visserybedryf verkry word uitgesluit.
Persoonlike betrokkenheid: Aansoekers sal voltyds betrokke moet wees by die oes van oesters.
Balanseringskriteria
Hoewel die volgende kriteria op regtehouers en nuwe aansoekers toegepas word, sal die gewig wat aan elke kategorie geheg word verskil.
a Transformasie
Die Departement sal swart aansoekers ondersteun, omdat die transformasieprofiel van hierdie bedryf besonder swak is. Verder sal die Departement probeer om vroue ook te ondersteun deur geslag as valbyl-faktor toe te pas waar nodig.
b Belegging in die bedryf
Die Departement sal aansoekers se beleggings, indien enige in die sektor, in aanmerking neem hetsy in die vorm van prosessering of bemarking, sowel plaaslik as internasionaal.
c Oesprestasie
Bestaande Regtehouer aansoekers sal evalueer word met inagneming van hulle oesprestasie en rekord gedurende die proses van medium-termyn regtetoekenning.
Nuwe aansoekers sal evalueer word volgens hulle vermoë, kennis en vaardigheid om oesters te oes.
d Afhanklikheid van oesters
Die Departement sal voorkeur gee aan aansoekers wat afhanklik is van die oes van oesters vir minstens 75% vir hulle jaarlikse bruto-inkomste. Soos hierbo genome, sal enige aansoeker wat inkomste verdien uit bronne buite die visserybedryf uitgesluit word.
e Plaaslike ekonomiese ontwikkeling
Die Departement verkies om regte toe te ken aan aansoekers wat naby die oesvelde woon. In hierdie verband vereis die Departement dat die aansoeker al minstens vier jaar lank in daardie gebied woon.
Regtehouers wat tans ondersoek word vir oortredings van die Wet op Lewende Mariene Hulpbronne, sal nie 'n oesterreg toegeken word voordat die resultate van die ondersoek bekend is nie.
Geringe oortredings deur die aansoeker van die Wet op Lewende Mariene Hulpbronne en die regulasies daarby, sal negatiewe punte behaal.
Monopolieë en die Registrasie van kopers
Die Departement is van mening dat die potensiaal van hierdie sektor nog nie ten volle ontgin is nie, omdat een of twee groeperings die sektor monopoliseer.
Die groei van hierdie sektor is benadeel, as gevolg van die monopolieë en plukkers is uitgebuit. Monopolieë in hierdie sektor is onaanvaarbaar en sal nie toegelaat word om voort te gaan nie.
Gevolglik moet almal wat oesters van regtehouers (plukkers) wil koop by die Departement registreer. Die Departement sal niemand registreer wie se regte of permitte gekanselleer of ingetrek is ingevolge die Wet op Lewende Mariene Hulpbronne, of wat skuldig bevind is op 'n oortreding van die Wet op Lewende Mariene Hulpbronne nie. Indien die Departement bevind dat kopers onderhands saamwerk om pryse vir oesters vas te stel sal die Departement tussenbeide tree en as alleen-koper van die oesters optree.
Die oes van oesters
Regtehouers en plukkers sal toegelaat word om die volgende te gebruik om oesters te oes:
Regtehouers en plukkers mag nie die volgende gebruik nie:
Aansoekgelde
Aansoekgeld vir hierdie sektor sal nie R500 oorskry nie. Die Departement is besig om die koste van die toekenningsproses vir hierdie sektor te bepaal. Die Departement sal regtehouers en belanghebbende partye in kennis stel sodra die aansoekgeld vasgestel is.
Voorlopige lyste
Voordat die Departement 'n finale besluit neem oor aan wie oesterregte toegeken word, sal 'n voorlopige lys van suksesvolle aansoekers per gebied na elk van die gebiede gestuur word.
Mense in die gebiede kan die Departement dan inlig oor persone wat histories oesters geoes het en uit die lys weggelaat is
Permitvoorwaardes
Permitvoorwaardes vir hierdie bedryf word jaarliks uitgereik. Die permitvoorwaardes van toepassing op hierdie bedryf vir die 2005-seisoen word as Bylae A aangeheg. Die voorwaardes mag jaarliks gewysig word na oorlegpleging met die regtehouers in die bedryf. Regtehouers en belanghebbende partye word uitgenooi om kommentaar oor hierdie permitvoorwaardes te lewer.
